Om te ontwaak is nie om wakker te skrik nie. Daar mag wel oomblikke van (wakker) skrik langs die weg van ontwaking wees. Ontwakings is veel meer 'n gelydelike bewuswording van iets wat met jou, of 'n generasie, of 'n groep gebeur. Ek dink hier bv. aan die intellektuele ontwaking, die industriële ontwaking... Sommige mag dalk van "revolusie" wou praat. "Revolusie" het te veel van mag in hom opgesluit. Hy verander jou met mag en mening en oorheersing - of jy daarvan hou of nie.
Revolusie sê vir jou. Ontwaak vra vir jou.
Revolusie druk jou. Ontwaak wys vir jou.
Revolusie is kwaad. Ontwaak glo en hoop.
Revolusie forseer. Ontwaak inspireer.
My hoop is dat hierdie gedagtes van my eie gelydelike bewuswording ook 'n ontwaking by jou mag stimuleer en dat hierdie nuwe bewussyn soos asem sal wees.
